Heritage

‘n PLEKKIE AAN DIE VAAL

Einde 1980 koop ons Gedeelte 3 van die Plaas Buffelskloof Nr. 511 van mnr Ronald Bryne Boucher vir ‘n volle R70000. Die plaas was toe bekend as “Riverview”.

Ons neem besit van ‘n plaas met ‘n elektriese motor van 70 perdekrag, 30 sproeiers en 60*6 meter pype, ‘n klein 2 slaapkamerhuisie (met 100 vlermuise!), ‘n platdakstoor met kleimure , ‘n klein oop melkstalletjie, ‘n klei bakoond,  2 werkerhuisies van klei en sink, verspoelde paaie, gehawende draadheinings en 20 ha lande, geil  begroei met oliebome.

Met my stadsagtergrond en voltydse betrokkenheid destyds by die Clover besigheid het ek probeer,  benewens  die makmaak van die omgewing, om ook te boer.

Dit het gevra kragvoorsiening, nuwe boorgate, drade, mielies, skape , groente en selfs lemoen- en nartjiebome….wat skaapkos geword het!

Later saai ons die lande vol Smutsvinger gras, die dominante grastipe van die omgewing.

…en ja, ons produseer en verkoop ook melk van ons 6 melkkoeie wat daagliks met ‘n kruiwa afgery word pad toe.  Dikwels te laat vir die vragmotor van die Koppies fabriek van Stein Broers.  ‘n Melktjekkie elke maand! En natuurlik ook wol in Parys.

Die infrastruktuur brei later uit na 3 woonhuise, groot genoeg vir my gesin van 5 kinders,19 kleinkinders en agter kleinkinders, 4 werkershuise,  ‘n swembad en ‘n mini golfbaan. Die mini golfbaan is ontwerp deur Thinus Hermann en gebou deur wyle Jimmy Majila.

Met ‘n beperkte besproeiingskwota was die plasie in my omstandighede nie bestem vir boerdery nie. Sy ligging in die bekende Vredefort Koepelvallei in ‘n pragtige stukkie bosveld maak hom egter ‘n juweel wat deur menige besoeker intens geniet word.

Dit is daar waar ons vir byna 40 jaar ontspan het en waar ek altyd ‘n uitlaat kon kry tydens die besige jare. Daar waar tien minute se stap in die bos, of sit op die rotswal in die rivier, of hoog in die berg, jou heeltemal laat ontspan en weer skielik perspektief laat kry.

Die plaas en sy omgewing het mooiheid en interessantheid.

  • Die grootste en oudste meteoor uit die heelal , blykbaar groter as Tafelberg, het daar  geval en bring toegewyde studies deur allerlei wetenskaplikes. 
  • Goud is in die omgewing in die rantjies in horisontale tonnels gegrawe . 
  • Diamantdelwers het aan die rivier die grond omgedolwe en
  • Steentydperk handapparate is oral te kry as jy fyn oplet.

Die bobejane en ape is ook daar – breek en steel ons groente en vrugte. 

Ek het aan Apie, ons hoofman, voorgestel dat hulle die bobejane moet inroep en met hulle moet praat.

“Maar hulle sal alles breek!  Hulle is te veel!”

“Nee man, hulle moet net twee verteenwoordigers stuur, dan praat julle met húlle en kyk of húlle hulle nie kan bekeer nie.”

“Hulle sal nie luister nie….”

Ons het gevolglik  nie verder gevorder nie.

Die swart mense wat oorspronklik op die plasie gewoon het, het Afrikaans gepraat, het  Afrikaanse liedjies van hulle eie gesing en het elke ou Kersaand vir ons gesing en gedans  om daarna gretig en kinderlik klein geskenkies te ontvang.

Die naam van een van hulle liedjies was “Jakkiesdraai”. Vir ons het dit geklink na   “Jakkalsdraai”. En met die baie Jakkalse wat snags skreeu, het ons die plasie  mettertyd “Jakkalsdraai” gedoop wat vir ons meer betekenis gehad het as die Engelse “Riverview”.

So het Jakkalsdraai se mense hulle eie kultuur en hulle eie grappies gehad, hulle eie swaarkry en hulle eie ideale.

Ons sien nou ‘n nuwe begin. Nuwe mense, nuwe planne …..omring deur steentydperk en veel ouer meteoor getuienis , ystervarke wat pampoene vreet, groot bobbejane wat arrogant rondstap,   reuse babers, geelvis en karp en ‘n uitsig wat mens se gedagtes ver weg laat sweef.

‘n Nuwe 40 jaar, ‘n nuwe werksleeftyd.

Ons groet Jakkalsdraai.

Dr. MN Hermann